Pages

Thursday, April 26, 2012

Vergelegen in pienk

Die Weskaap is wêreldwyd bekend vir sy wynplase, party van hulle wat soveel as drie eeue terugdateer.  Een van die oudste wynplase in die Kaap is Vergelegen in Somerset-Wes.  Willem Adriaan van der Stel het sy pa, Simon van der Stel, in 1700 opgevolg as goeweneur van die Kaap.  Kort voor lank het hy 'n groot stuk grond aan die voet van die Hottentots Hollandberge vir homself geeien net soos sy pa met Constantia, die oudste wynplaas in die Kaap, gedoen het.  Dit het drie dae geneem om by die plaas te kom met 'n ossewa en dit is hoe die plaas sy naam "Vergelegen" (ver geleë uit die Kaap uit) gekry het.  Met my laaste besoek kon ek nie help om in die tuin pienk blomme in te klim en die foto te neem met die Vergelegen herehuis in die agtergrond nie.

Wednesday, April 25, 2012

Karoostorm

Party mense vind die baie vervelig om deur die Karoo te reis, maar vir meeste het die groot ooptes met die weie blou hemel bokant 'n spesiale aantrekking.  Na 'n warm somers dag kan 'n donderstorm baie gou opsteek soos hier net buite Steynsburg in the Ooskaap.  Die twee Karookoppies in die agtergrond is Teebus en Koffiebus omtrent 10km buite die dorp.  Die "bus" is blykbaar ou Nederlands vir pot en die naam kom van die feit dat hulle soos 'n teepot en koffiepot in die verte lyk.  Teebus aan die linkerkant is die smaller een van die twee koppies terwyl Koffiebus breër is.

Monday, April 23, 2012

Jagluiperd


Die groot kat wat seker die meeste onderskat word wanneer daar oor die diereryk gepraat word is die jagluiperd.  Wildkykers wil gewoonlik leeus en luiperds sien en as tiere natuurlik in Afrika voorgekom het sou hulle ook seker bo die arme jagluiperd op die lys gewees het.  Die Jagluiperd is die vinnigste landsoogdier en kan snelhede van tussen 112 en 120 km/h bereik.  Hy kan 100 km/h binne 3 sekondes bereik en kan tot 450 m ver die spoed handhaaf voor hy moet stop om te verhoed dat sy liggaam oorverhit.  Jagluiperds verkies oop savannes, gras of bosveld en kom hoofsaaklik in Afrika voor met 'n klein groepering van 'n subspesie wat in Iran aangetref word.

Saturday, April 21, 2012

Waar is die leeus?

Besoekers aan die Addo Olifant Nasionale Park word aangeraai om twee (of drie of vier) keer te kyk en seker te maak dat daar nie leeus in die omgewing is voor hulle by die uitkykpunt op Suurkop uitklim nie.  Omdat die park die tuiste is van die Groot 5 - om die waarheid te sê dit is die enigste park in die wêreld wat kan sê hulle het die Groot 7 - is die kanse goed dat daar dalk 'n paar leeus êrens naby uithang.  Chaos-Seun het besluit om vir homself te sien of daar dalk iets wegkruip.

Friday, April 20, 2012

Die son kom op vir Raakreis

Sonopkoms in Plettenbergbaai met die Tsitsikammaberge in die verte
 .
Wat beteken dit om raak te reis?  Die antwoord is eintlik heel maklik.  Dit beteken om op reis te wees en nie dinge te mis nie.  Dit beteken om alles te sien wat die moeite werd is om te sien, of dit nou 'n bekende landmerk is of 'n klein en onbekende monument.  Dit beteken om nie blindelings te reis nie, maar te verken sonder om na die tyd spyt te wees dat daar iets was wat jy nie gesien het nie.  Wat is Raakreis?  Raakreis is 'n trots Afrikaanse blog waarin ek graag my reis- en natuurfotografie sowel as reisinligting oor die plekke wat ek al besoek het (en nog sal besoek) met lesers wil deel.  Waar kom Raakreis vandaan?  Ek het in Julie 2008 begin blog toe The Firefly Photo Files die lig gesien het.  In Maar 2009 het ek Port Elizabeth Daily Photo oorgevat en sederdien het ek 1064 artikels in eersgenoemde en 1131 is PEDP geplaas.  Verlede week het iemand my in 'n epos gevra of die inligting in die blogs ook in Afrikaans beskikbaar is en dit het my aan die dink gesit.  Sal mense belangstel in 'n Afrikaanse reisblog?  Hoekom nie?  Die belangrikste, het ek besluit, is dat dit nie net 'n vertaling van die ander blogs moet wees nie, maar iets wat heeltemal op sy eie staan.  Terwyl ek baie keer in die ander blogs baie spesifieke inligting gee gaan Raakreis meer gaan oor hoe ek 'n plek ervaar het en wat jy as leser by 'n plek (of dit nou 'n dorp, roete, pad, park of wat ook al) kan verwag en kan sien.  Verwag artikels soos "5 goed om in (waar ook al) te doen", My top 5 (wat ook al), inligting oor spesifieke plekke en fotos van landmerke, attraksies en baie ander dinge.  Hierdie is waar die son opkom vir Raakreis, so geniet die rit en maak seker jy reis raak.

PS, ek wil net noem dat ek nie 'n professor in Afrikaans is nie en dat ek ook nie 'n sub-redakteur het wat die posts nagaan nie, so daar mag wel van tyd tot tyd taal- en spelfoute inglip (tien teen een meer gereeld as dit), so vergewe maar as dit gebeur.