Pages

Thursday, May 31, 2012

Vuurvoël

Ons weet almal van die mitiese feniks wat uit die vuur en as uit opgerys het, maar wat gemaak as mens skielik 'n swartkopreier in 'n veldbrand sien?  Is dit 'n feniks van ander vere?  Dit het nie lank geneem om te sien wat regtig aan die gang was nie.  Die veldbrand het sprinkane en ander insekte voor dit uitgejaag en die reier het letterlik net rondgestaan terwtl sy middagete na hom toe aangekom het.

Tuesday, May 29, 2012

Die Uilhuis in Nieu-Bethesda

Suid-Afrika is vol van klein dorpies met interessante verhale en plekke om te ontdek, maar een van die wat baie hoog op enige iemand se lys behoort te wees is die Uilhuis in die Karoodorp Nieu-Bethesda.  Nieu-Bethesda lê so 50km noord van Graaff-Reinet en is in 1838 deur Charles Murray, 'n Nederduitse Gereformeerde dominee van Graaff-Reinet, gestig.  Met die stigting van die dorp het hy gesê, "En laten wy deze plaats nu Bethesda noemen" vanwee die vrugbaarheid van die plek en die aanwesigheid van voldoende water.
.
Nieu-Bethesda was die tuiste van Helen Martins (1897-1976) wat haar ouers se huis op die dorp geêrf het na hulle dood.  Miss Helen het verveeld geraak met haar lewe en omgewing en begin om die huis en tuin te versier met sement, glas en draad.  Sy het later standbeelde in die tuin begin bou en is geinspireer deur tekverse uit die bybel, die poësie van Omar Khayyam en verskeie kunswerke deur William Blake.  Koos Malgas het in 1964 vir haar begin werk en haar gehelp om standbeelde van uile, kamele en mense op te tower.  Die meeste van die mense in die tuin kyk en wys oos omdat Miss Helen so 'n fasinasie met die Ooste gehad het.
.
Al die jare se werk in en om die huis met gebreekte glas het Helen Martin se oê aangetas en sy het begin blind word.  As gevolg van dit het sy in 1976 op die ouderdom van 78 selfmoord gepleeg deur bytsoda (caustic soda) te drink. Haar wens was dat die huis behoue sou bly as 'n museum en dit is hoe dit vandag nog is.  Die Uilhuis is regtig 'n plek waar jy jouself in jou eie gedagtes kan verloor.  In my eie tuin het ek 'n uil wat ek oorkant die pad van die Uilhuis gekoop het en dit herhinder my daagliks aan my besoek aan hierdie spesiale plek.

Friday, May 25, 2012

Golden Gate

Een van Suid-Afrika se bekendste nasionale park landmerke is die Brandberg in die Golden Gate Hoogland-nasionale park in die Oos-Vrystaat.  Maak nie saak of dit wit gesneeu is in die winter of gras groen is in die vroeë somer nie, dis altyd 'n welkom gesig vir reisigers oppad uit die Vrystaat na KwaZulu Natal se kant toe.  Maar moenie net deurry nie, stop vir 'n dag of twee en verken die area. 

Tuesday, May 22, 2012

Durban sonopkoms

Die begin van nog 'n pragtige dag in Afrika. 

Ek het hierdie foto van die son wat oor Suidstrand opkom geneem uit my 9de verdieping hotelkamer gedurende die onlangse Indaba uitstalling in Durban . 

Thursday, May 17, 2012

Tsitsikamma kuslyn

Die Tsitsikamma, plek van baie water, is sonder twyfel een van Suid-Afrika se asemrowendste streke. Digte groen inheemse woude waar woudreuse van oor die 800 jaar oud staan word van die blou see geskei deur loodregte kranse.  'n Ongerepte kuslyn met wit skuimende branders wat hulleself te pletter slaan op swart rotse.  Dolfyne en walvisse, otters in 'n sloep, luiperds teen die berg en die skugter Knysnaloerie wat tussen die boomtoppe rondbeweeg.  Stories van houtkappers uit die ou dae, olifantvoetpaaie en wie weet, miskien 'n bosgees of twee.  Duidelik een van die mooiste en aanloklikste landskappe aan ons land se kus.

Wednesday, May 9, 2012

Die klein dingetjies

Dis so maklik om as reisiger soveel op die groot dinge te konsentreer dat mens die klein goedjies miskyk.  Gedurende 'n besoek aan Addo Elephant Back Safaris in die Zuurberge net langs die Addo Olifant Nasionale Park het ons onder andere saam met die olifante gaan stap.  Terwyl hulle water gedrink het het ek hierdie skoenlappertjie langs die dammetjie gekry en hy het lank genoeg stilgesit sodat ek langs hom kon gaan lê om die foto te kry.

Monday, May 7, 2012

Swartberg plaashek

Suid-Afrika bied inwoners sowel as besoekers 'n ongelooflike verskeidenheid van landskappe om te verken, geniet en foto's van te neem.  Hierdie foto is geneem oppad na die Swartbergpas vanaf Oudtshoorn.

Thursday, May 3, 2012

Die Groot Vyf

Wie of wat is die Groot Vyf?  Kom ons wees meer spesifiek en sê die Groot Vyf van die diereryk, anders dink mense dalk ons praat van lande, natuurwonders of toerisme-attraksies.  So, wie of wat is die Groot Vyf van die diereryk?  Dis nie die vyf grootste diere of die mooiste vyf nie, maar die vyf wilde diere wat die gevaarlikste was om te voet te jag in Afrika.  Ek sê was want vandag is dit niks om 'n dier vanaf die agterkant van 'n bakkie of uit 'n helikopter te skiet nie. 

Die eerste en grootste dier op die lys is die olifant wat tot die familie Elephantidae behoort.  Die Afrika-olifant  (Loxodonta africana) is beide algeheel groter en het groter ore as die Indiese olifant (Elephas maximus), wat beperk is tot Indië en Suidoos-Asië.  Die soogdier wat huidiglik die nouste verwant is aan olifante is ... wag vir dit ... die Suid-Afrikaanse dassie.  Dit is omdat beide dieselfde beenstruktuur in hulle voete het.  Die foto is in die Addo Nasionale Olifantpark geneem wat seker een van die beste plekke in die land is om wilde olifante van redelik naby te besigtig.

Die leeu (Panthera leo) is een van die vier "groot katte" in die genus Panthera.  Dit is die tweede grootste katspesie naas die tier en weeg tussen 150 en 250 kilogram.  In die natuur word leeus tussen 10 en 14 jaar oud, terwyl dié in gevangenskap tot oor die 20 jaar oud kan word.  Hulle word nie verniet die koning van die oerwoud genoem nie, alhoewel hulle nie regtig oerwoud diere is nie en eerder op die savana's en bosveld van Afrika voorkom.

Daar is gereeld besprekings onder mense oor of dit die swart- of wit-renoster is wat ingesluit is in die Groot Vyf.  Die kleiner swartrenoster (Diceros bicornis) kom gewoonlik in bosse voor en is die meer aggresiewe van die twee terwyl die witrenoster (Cerarotherium simum) meer in ooptes voorkom omdat hy gras eet.  Die swart-renoster is die een was oorspronklik ingesluit is in die Groot 5 alhoewel albei oor die algemene aanvaar word.  Renosters is in die laaste tyd verskriklik geteiken vir hulle horings wat op die swartmark in die Ooste verkoop word.  Dit het so erg geraak dat ek nie met veiligheid kan sê waar die foto van die swartrenoster hierbo geneem is nie.

Die buffel is 'n gelyktonige hoefdier van die familie Bovidia, en die subfamilie Bovinae.  Die buffel word geken as 'n formidabele en onvoorspelbare teenstander en kan tot 56km/uur hardloop.  Buffels is sekerlik die mees onderskatte van die Groot Vyf en 'n gewonde buffel is uiters gevaarlik met verskeie jagters wat al gedood is in buffelaanvalle. Ou veldkenners beweer dat 'n gewonde buffel op sy spore teruggaan en die jagter sal voorlê.  Die Kaapse Buffels in die Addo Nasionale Olifantpark het hulle hele manier van lewe verander na hulle amper uitgeskiet is in die vroeër 1900's en het so te sê nagdiere geword todat leeus weer in die park ingebring is in die vroeër 2000's.  Voor die leeus se koms het jy amper nooit die buffels in die park gesien nie terwyl hulle nou weer algemeen in ooptes voorkom. 

Laaste, maar nie die minste nie is my gunsteling dier.  Die luiperd (Panthera pardus) was voorheen as bergtier of tier bekend en is 'n lid van die katfamilie. Luiperds is na tiers, leeus en jaguars die vierde grootste groot-kat met die poema volgende grootste.  Luiperds is nagdiere met 'n volwasse luiperd wat ongeveer 60 kg weeg en'n algemene hoogte van 60 cm bereik.  Die luiperds in die noorde van Suid Afrika word baie meer gereeld gesien as die in die Ooskaap en Weskaap.

Tuesday, May 1, 2012