Pages

Sunday, December 16, 2012

Lewer in die township

Ek is mal oor lewer, maar nie almal is groot aanhangers daarvan nie.  In die townships is dit wel baie gewild en word verkoop op baie straathoeke waar kos gemaak en direk uit die potte aan verbygangers verkoop word.  Onlangs het ek 'n toer vir 'n groep na New Brighton township in Port Elizabeth gereel en een van die stopplekke was 'n "wegneemete" hoek. 

Hier het een van my kollegas 'n pot lewer en uie voorberei en alhoewel baie van die mense op die toer met opgetrekte wenkbroue daarna gekyk het het hulle gou ingespring en die bak leeggemaak.  Ek het nog gehoop vir 'n laaste happie toe was daar net uie oor. 

Monday, December 3, 2012

Klein treintjies

Op die eerste Sondag van die maand stroom baie families met klein (en ander met nie so klein) kinders na die Port Elizabeth Model Locomotive Society se maandelikse oop dag.  Families staan al van vroeg af tou om op die treintjies te ry met veral die stoom lokomotiewe wat baie aftrek kry.  Die rit vat wel net 'n paar minute, maar sluit in 'n tonnel, die Groot Grasrivier brug en 'n paar draaie deur die gronde in. En die beste van alles.  Dit kos net ongeveer R6 per rit.

Monday, November 26, 2012

Kaap die Goeie Hoop

 
Die Kaap die Goeie Hoop is die naam van die mees suid-westelike landpunt van Afrika en is letterlik 'n klipgooi van Kaappunt af geleë.  Dit is tradisioneel (en verkeerdelik net soos met Kaappunt) geag as die punt waar die Atlantiese Oseaan en die Indiese Oseaan mekaar ontmoet, terwyl die eintlike ontmoetingspunt verder ooswaarts by Kaap Agulhas - Afrika se mees suidelikste punt - is. Die koue Benguelastroom wat van Antarktika af noord vloei, ontmoet wel die warm Agulhas-stroom naby die Kaap die Goeie Hoop.

Die meeste besoekers aan Kaappunt besoek ook die Kaap die Goeie Hoop en met sekere tye staan mens omtrent in 'n tou om 'n kans te kry vir 'n foto by die bordjie (soos ek hier maak).

Monday, November 19, 2012

Noetzie - Kastele op die strand

So 'n paar kilometer buite die Tuinroete dorp Knysna, aan die einde van 'n grondpad, is 'n baie unieke plek met die naam Noetzie.   Noetzie (Khoi-San vir Donker Water) het 'n pragtige strand en strandmeer omring deur inheemse woude, maar wat Noetzie laat uitstaan is die feit dat daar verskeie kastele langs die strand is.  Die area is reg van Knysna se begin jare af 'n plekkie waar die plaaslike inwoners oor naweke gaan kamp het.  Die eerste kasteel is in 1932 uit plaaslike klip as 'n vakansiehuis gebou met verskeie ander wat in die volgende paar dekades gevolg het.

Tuesday, November 13, 2012

Kaappunt se vuurtorings

Kaappunt in die Kaap van Goeie Hoop Natuurreservaat is seker een van die plekke wat die meeste besoekers ontvang in Suid Afrika.  Alhoewel Kaappunt nie die mees suidelikste punt in Afrika is nie, is dit die suidelikste punt van die Kaapse Skiereiland en een van die plekke waarheen besoekers gaan as hulle om die Skiereiland toer.  Die ou Kaappuntvuurtoring by Kaap Maclear is een van twee vuurtorings by Kaappunt en kan bereik word deur of die trappies te klim of die makliker opsie wat die Vlieënde Hollander kabelbaan is te gebruik. Die ou vuurtoring is op 1 Mei 1860 opgerig op 'n hoogte van 249 meter bo seevlak.  Die toring was egter te hoog en is gereeld in die mis waar dit dan nie deur skepe gesien kon word nie.  Nadat die Lusitania, 'n Portugese skip, op 18 April 1911 gestrand het, is daar besluit om 'n nuwe toring op te rig. 

Wanneer mens opgeklim het tot by die ou vuurtoring kan jy Kaappunt self met sy loodregte kranse sien waar dit afreik tot waar die see op die rotse breek. 

Reg onder op Dias Punt is die "nuwe" Kaappuntvuurtoring.  Die hoeksteen van die nuwe toring is op 25 April 1914 gelê, maar dit is eers na die Eerste Wêreldoorlog voltooi en in gebruik geneem. Die toring se lamp wat omtrent 87 meter bo seevlak lê is teen sonsondergang op 11 Maart 1919 deur 'n driejaaroue meisie, Thurl Cooper, dogter van die die vuurtoring ingenieur H.C. Cooper, aangesteek.  Die nuwe Kaappuntvuurtoring is die kragtigste in Suid-Afrika en die 10 000 000 kerskrag lig flits drie keer elke dertig sekondes.

Friday, November 9, 2012

Stormsriviermond hangbrûe

Die Tsitsikamma Nasionalepark op die Tuinroete is een van die mooiste plekke in Suid-Afrika met sy inheemse woude, loodregte kranse en pragtige kuslyn.  Die 1 km lange mondwandelpad van die ruskamp tot by Stormsriviermond is die gewildste staproete in die park en die hoogtepunt is die drie hangbrûe by die riviermond self.  Die oudste een van die drie steek die rivier oor terwyl die twee mees onlangse toevoegings oorgesteek word soos mens die rivier met die paadjie langs nader.  Die enigste waarskuwing wat ek het vir besoekers is dat daar baie trappies op die staproete is en nie sommer aangepak moet word as mens moelik stap nie.  

Tuesday, November 6, 2012

Sondagsrivier Veerboot

Colchester net buite Port Elizabeth is a rustige plekkie en is baie gewild met vakansiegangers en stadsjapies wat oor die naweek bietjie wil wegkom en die Sondagsrivier geniet.  Behalwe die rivier is die twee ander groot aantreklikhede die Addo Nasionale Olifantpark wat se suidelike hek in Colchester uitkom en die reuse sandduine aan die ander kant van die rivier.  Die Sondagsrivier Veerboot doen daaglikse ritte in die oggend and laat middag met die rivier af waarna mens teen die duine kan opklim om die fantastiese uitsig van bo af te geniet.

Wednesday, October 31, 2012

Steve Biko tronksel

Steve Biko is een van Suid Afrika se bekendste anti-apartheid aktiviste en is op 11 September 1977 oorlede nadat hy deur die polisie mishandel en aangerand is.  Biko is naby Port Elizabeth gearresteer en in die Walmer Polisiestasie aangehou voor hy ondervra en aangerand is.  Hy is agter in 'n voertuig gegooi en vervoer Pretoria toe waar hy oorlede is.  Ek het onlangs die geleentheid gekry om die polisiesel te besoek waar hy in Walmer aangehou is en dink alhoewel dit nie aan die publiek oop is nie is dit regtig iets wat toeriste sal wil sien. 

Monday, October 29, 2012

Witpoortjiewaterval

Die Witpoortjiewaterval is die fokuspunt van die Walter Sisulu- Botaniese Tuin in Johannesburg.  Die tuin is 'n baie gewilde piekniekplek en besoekers hou gewoonlik hulle oë baie wyd oop om te sien of hulle dalk die broeipaar Verreaux arende wat langs die waterval nesmaak kan gewaar.

Wednesday, October 24, 2012

Donkin Reservaat na donker

Die Donkin Reservaat in Port Elizabeth het 'n mengsel van beide oud en modern.  Die oud is die Donkin gedenkteken in die vorm van 'n piramide (1820) en die Donkin Vuurtoring (1861) terwyl die moderne aspek die nuwe kuns is wat deel vorm van Roete 67. 

Tuesday, October 16, 2012

Perdemonument

Port Elizabeth is die tuiste van een van net twee monumente in die wêreld wat spesifiek opgesit is vir perde.  Derduisende perde is na die Kaapkolonie gebring vir die Britse troepe wat in die Anglo Boereoorlog tussen 1899 en 1902 teen die Boeremagte geveg het.  Die meeste van hierdie perde is deur Algoabaai ingebring en geskiedenis wys dat meer as 300,000 perde van siektes, uitputting en hongerte gesterf asook doodgeskiet is. 

Daar was reeds in 1901 'n besluit geneem om 'n monument vir die perde op te rig en 'n dameskomitee is op die been gebring om fondse in te samel.  Mev Harriet Meyer was aan die hoof van die komitee wat £800 versamel en Joseph Whitehead aangestel het om die standbeel te ontwerp en op te rig.  Die monument is in 1905 op die hoek van Parkrylaan en Rinkstraat bekendgestel en in die 1950's na sy huidige posisie langs Kaapweg geskuif.
 
Die monument bestaan uit 'n Britse soldaat wat besig is om sy perd te versorg en die inskripsie daarop sê:
“The greatness of a nation depends not so much upon the number of its people or its territory,
as in the extent and justice of its compassion.”
 

Friday, October 12, 2012

Baba spinnekoppies

Ek is nie 'n groot aanhanger van spinnekoppe nie, behalwe as ek na hulle kyk deur my kamera.  Dan kom ek nogal verbasend naby.  Op 'n besoek aan 'n kampterrein langs die Gamtoosrivier het ek een middag gaan stap om 'n paar sonsondergang fotos te neem.  Langs die paadjie het ek iets vreemd opgelet en besluit om ondersoek in te stel.  Wat van ver af soos 'n bol iets gelyk het was 'n hele zoer baba spinnekoppies.

Sunday, October 7, 2012

Nelson Mandelabaai Stadion

Die Nelson Mandelabaai Stadion in Port Elizabeth was een van die stadions wat voor die 2010 FIFA Wêreldbeker gebou is.  Die 44 000 sitplek stadion het R1,1 miljard gekos (omtrent $150 miljoen) om te bou en is die eerste wêreldklas stadion in die Ooskaap.  Die stadion is langs die Noordeindemeer geleë en het gou een van Port Elizabeth se uitstaan landmerke geword. 

Die stadion maak vir 'n absoluut pragtige foto op aande wat daar 'n wedstryd plaasvind.

Die stadion is die tuisveld van beide die OP Kings (wat in die Currie Beker Eersteliga speel in 2012) en die Southern Kings (wat in 2013 in Super Rugby gaan speel) en het ook al gasheer gespeel vir die Springbokke in wedstryde teen Engeland en Nieu Zeeland.  Dit is ook die gasheerstadion vir die Suid-Afrikaanse been van die Internasionale Rugbyraad se wêreld 7's toernooi.  Behalwe vir rugby word daar ook van tyd tot tyd sokker gespeel.  In 2010 het daar 8 wedstryde in die FIFA Wêreldbeker hier plaasgevind en daar sal ook wedstryde hier gespeel word in die 2013 Afrikabeker.

Tuesday, September 18, 2012

Houtkappershuisie

Met sy inheemse woude vasgedruk tussen 'n pragtige kuslyn en die Tsitsikammabergreeks en bruingekleurde riviere wat daardeur vloei is die Tsitsikamma een van my gunsteling plekke in Suid-Afrika.  Wanneer mens die dorpie Stormsrivier besoek vind jy hierdie ou bosbouhuisies langs Eikelaning wat van die dorpie na die ou pad deur die woud lei.

Monday, September 10, 2012

Knysnakoppe

Die Knysnakoppe by Knysna in die Weskaap is een van Suid Afrika se bekendste natuurlike landmerke en word gereeld in reistydskrifte en brosjures gesien.  Die Koppe is ook een van die gevaarlikste ingange tot 'n natuurlike hawe in die wêreld met menige bote wat al hier deur die branders omgeslaan is of op die rotse geloop het.

Tuesday, August 21, 2012

Bloukransbrug Bungee

Teen 216 meter hoog is die Bloukransrivierbrug op die grens tussen die Ooskaap en Weskaap die hoogste brug in Afrika.  Die brug is een van vyf enkelboogbetonbrûe op die N2 tussen Port Elizabeth en Plettenbergbaai en is 415meter lank.  Maar dis nie regtig hoekom ons hier is nie, is dit?
Die eintlike rede hoekom die Bloukransrivierbrug bekendheid verwerf het is die feit dat dit ook is waar die hoogste brugrekspronge (bungee) in die wêreld plaasvind.  Alhoewel honderde adrenalienverslaafdes elke jaar van die brug afspring met 'n tou om hulle enkels dink ek dat mens ten minste 'n klein bietjie van lootjie getik moet wees om jouself daar af te gooi.  As jy na die ouens (en meisies) kyk na hulle weer van die brug afkom is die een ding wat mens wel dadelik raaksien die "post bungee grin" wat heeltemal om hulle koppe sou gaan as hulle nie ore gehad het nie.
Ek voeg hierdie derde foto by net om te wys hoe een van daai malletjies lyk daar waar hulle tussen hemel en aarde hang.

Friday, August 17, 2012

Klein Karoo sonsondergang

Die son gaan onder oor die Klein Karoo.  Dis die einde van 'n snikhete somersdag en die horison is besig om te verkleur.  Blou raak goud raak donkerder.  Daar is nie 'n briese wat trek nie met die enigste beweging 'n volstruis wat teen 'n draadheining afloop.

Tuesday, August 14, 2012

Karel Landman monument


Mens is so gewoond om monumente in dorpe en stede asook langs groot paaie te sien, maar daar is wel monumente wat min mense te sien kry weens waar hulle gelee is.  Die Karel Landman Monument is een van dié en kan gesien word op 'n grondpad so 'n entjie van R72 tussen Port Elizabeth en Alexandria af.  Karel Landman het in die omgewing geboer tot 1837 voor hy een van die prominente Voortrekker leiers geword het.  Landman het 'n groep van omtrent 180 trekkers en hulle werkers oor 'n afstand van 885 kilometer gelei tot in Natal.  Hy het ook 'n groot rol gespeel in die Slag van Bloedrivier asook verskeie ander skermutselings met die Zulus. 


Die monument is in 1938 opgesit deur 'n samewerking tussen die kerksrade van die NG Kerke in Alexandria en Patterson.  Die probleem was dat die kerke nie kon besluit in watter dorp die monument moes opgaan nie en so is daar toe besluit op 'n koppie halfpad tussen die dorpe.  Die monument bestaan uit 'n 3 meter groot aardbol met 'n ossewa wat oor die breedte van Suid-Afrika strek.  Die monument begroet mens so half onverwag terwyl jy op die grondpad ry en mens kan amper nie help om te stop en dit van naderby te bekyk nie.

Sunday, August 12, 2012

Tafelberg van oorkant Tafelbaai

Tafelberg is die Moederstad en sekerlik Suid-Afrika se bekendste landmerk. Die berg is 'n UNESCO Wêrelderfenisgebied asook een van die Sewe Natuurwonders van die wêreld.  Dit is ook my berg.  Of altans so voel dit.  Ek het nog nooit in Kaapstad gewoon nie, maar wanneer ek die berg sien dan is dit asof ek huistoe verlang.  Ek groet die berg elke keer as ek in die Kaap aankom en weer as ek vertrek.  Daar is 'n band van een of ander soort tussen ons.  Tafelberg, my berg.   

Friday, August 10, 2012

Plettenbergbaai sonopkoms

Sonopkoms en sonsondergang fotos is van my gunsteling fotos om te neem.  So rukkie terug het ons 'n naweek op Plettenbergbaai deurgebring.  Dit was 'n bibberend koue oggend en ek het maar gesukkel om uit die bed te kom, maar wou graag op die strand wees vir sonopkoms.  Dit was die moeite werd, want daardie oggend het ek van my gunsteling sonopkoms fotos geneem.  Die enigste probleem was dat ek gevoel het dat ek 'n fokuspunt of onderwerp in die voorgrond wou hê en daar nie regtig iets was nie.  Onnodig om te sê dat as enige iemand my daai oggend gesien het op en af hardloop op die strand, hulle seker lekker sou gelag het.

Tuesday, August 7, 2012

Drakensberg wandelpad - Die Wandellied

Vir die een of ander rede het ek vandat ek met RaakREIS begin het en bloginskrywings in Afrikaans doen, skielik baie van die ou Afrikaanse Volksliedjies begin onthou as ek na van my fotos kyk.  Dis eintlik hartseer dat ons dit nie meer so baie sing soos wat ons gedoen het jare terug nie.  Hierdie foto is geneem op die Tigerfalls wandelroete in die Koninklike Natalse Reservaat in die Drakensberge en het my dadelik laat dink aan die Wandellied.

Wandellied

As ek moeg word vir die lewe in die stad, lok my die wandelpad;
As ek moeg word vir die lewe in die stad, lok my die wandelpad;
in die veld pluk ek 'n wandelstaf van die naaste doringboompie af,
en sing my wandellied, en sing my wandellied.

Of ek luister na my eie voeteval op pad oor berg en dal.
Of ek luister na my eie voeteval op pad oor berg en dal.
Dan's ek weer die eensaam wandelaar na die lekker landstreek wie-weet-waar,
'n swerwer lewenslank, 'n swerwer lewenslank.

En die blou plafon wat oor die velde strek sal saans my sluimer dek.
En die blou plafon wat oor die velde strek sal saans my sluimer dek.
En die sterreheer sal kom en gaan oor die maanverligte hemelbaan
en vriend'lik wink van ver, en vriend'lik wink van ver.

Saturday, August 4, 2012

Dias Museum

Daai dag in 1488 toe Bartolomeu Dias in 'n storm om die Kaap gevaar and kort daarna in wat vandag Mosselbaai is geland het, sou hy seker nooit kon raai dat op daardie selfde plek vandag 'n museum sou staan wat sy naam dra nie.  Die Dias Museum kompleks het 'n fantastiese verskeindenheid van attraksies en sluit 'n skulpiesmuseum, die Munrohoekhuisies, die oorspronklike varswaterfontein waar Dias se matrose water geskep het om aan boort te neem en die Poskantoorboom in.  Die Poskantoorboom is 'n 800 jaar oue melkhoutboom waar vroeë matrose boodskappe in ou skoene gelos het met die hoop dat bote oppad terug Portugal toe dit sou optel en terugvat.

Die hoofrede hoekom mense na die Dias Museum toe kom is die Maritime Museum wat 'n lewensgrote replika van die karveel waarmee Dias en sy bemanning in 1488  die groot onbekende aangevat het bevat.  Die replika is 500 jaar na die oorspronklike een gebou en is in 1988 vanaf Portugal na Suid-Afrika gevaar voor dit in die museum gehuisves is.

Monday, July 30, 2012

Springende krokedille

Die Kango Wildlife Ranch in Oudtshoorn het 'n lang pad gekom van die dae toe dit net 'n krokodilplaas was.  Alhoewel daar deesdae baie ander dinge is om te sien by hierdie bekende attraksie speel krokodille nog altyd 'n rol.  By die Springende Kake (Jumping Jaws) word die krokodil uit die water uit gelok met 'n stuk vleis.  Hy spring letterlik halflyf uit om die vleis te vat en terwyl dit gebeur staan besoekers met opgehoue asems om te sien of die gids darem met altwee sy arms gaan terugkom.  

Friday, July 27, 2012

Kaap Recife vuurtoring

Die Kaap Recife vuurtoring is op 1 April 1851 in gebruik geneem en staan net buite Port Elizabeth op die westelike punt van Algoabaai.  Kaap Recife is die draaipunt in Algoabaai in en word verskriklik gevaarlikste geag as gevolg van Thunderbolt-rif wat oor die eeue al verskeie bote en skepe geëis het.  Die rif self is vernoem na die HMS Thunderbolt wat in 1847 daar op die rotse geloop het.  The vuurtoring is 24 meter hoog en die lig is 4 000 000 kerskrag sterk.  Hy flits elke 30 sekondes en kan 29 seemyl ver gesien word.

Tuesday, July 24, 2012

Volstruise

As ek mag wil ek graag die lirieke van Groot Voël Paradys deur Jacques de Coning aanhaal om saam met hierdie foto te gaan.

Oudtshoorn is 'n grootvoël paradys,
los jou budgy by die huis en ek sal jou 'n groot voël wys.
Oudtshoorn is 'n grootvoël paradys,
Los jou mossie by die bossie en kom speel met my volstruis.

Kom sit hier op my skoot dan vertel ek vir jou,
van die grootste voël wat ek gesien het my vrou.
Dit was daar by die Klein Karoo Kunstefees,
as ek 'n voël kon kies dan sou dit daai een wees.

Daai voël se nek is so lank soos 'n paal,
en hy sit op twee eiers, 'n heerlike maal.
Maar as hy opstaan daai voël, dan is hy twee keer so groot,
so pasop as hy skop hy los 'n vreeslike knop.

Saturday, July 21, 2012

Seepampoentjie

Almal wat al langs 'n Suid-Afrikaanse strand gestap het moes die een of ander tyd êrens 'n seepampoentjie opgetel het.  Ek weet 'n seepampoentjie is 'n "sea urchin" in Engels, maar het nog altyd gewonder of dit dalk 'n ander naam in Afrikaans het wanneer dit nog leef.  Die eerste een wat ek besluit om te vra was my goeie vriend Google.  Hy laat my selde in die steek en hierdie geleendheid was nie anders nie.  Penny Nyren se boek Ontdek Stande was bo-aan die soeklys en daarin sê sy dat 'n lewende seepampoentjie 'n see-engel genoem word.  See-engele woon gewoonlik op koraalriwwe of in rotspoele en het skerp penne wat hulle hele dop (skulp) bedek.  Hierdie gevaarlike penne word gebruik om hulle te beskerm en is gewoonlik giftig.  Probeer om nie in een van hulle te trap nie, want daardie einste penne breek maklik in jou voet af en kan maklik infeksie veroorsaak.  Die seepampoentjie in die foto het ek gekry op 'n rots by die Knysnakoppe en moes deur iemand daar neergesit geword het nie lank voor my nie.

Wednesday, July 18, 2012

Groenpunt

Wanneer mens in 'n stad woon is daar niks lekkerder as om uit die stad uit weg te kom nie, maar dis nie altyd moontlik nie.  Die volgende beste opsie is om op 'n strand, 'n park of natuurarea in die stad te gaan stap.  Al drie Suid-Afrika se groot kusstede het baie gewilde wandelroetes langs hulle onderskeie strandfronte.  Dit maak nie saak op watter strandfront jy stap nie, elkeen het sy eie bekoring, pragtige uitsigte en verskillende besienswaardighede.  Die Kaapstadse strandfront kyk meesal uit oor Valsbaai met die berg in die agtergrond.  Die foto is geneem vanaf Seepunt en kyk terug na Groenpunt met die Groenpuntvuurtoring aan die regterkant. 

Sunday, July 15, 2012

Kaap Recife Natuurreservaat

Die Kaap Recife Natuurreservaat in Port Elizabeth beslaan omtrent 370 hektaar om die westelike punt van Algoabaai.  Die reservaat is idiaal vir voëlkyk beide aan die kus en om die waterherwinningspoele.  Die beste manier om die reservaat te verken is om op die 9km lange Roseate Tern wandelroete gaan.  Die roete begin by SAMREC (South African Marine Rehabilitation and Education Centre), 'n pikkewyn reddingssentrum, voor dit by die waterherwinningspoele verby gaan.  Die roete lei dan deur plantbedekte sandduine en verby 'n uitkykpos wat uit die Tweede Wêreldoorlog dateer.  Langs die kus sluit die roete die Kaap Recife vuurtoring in wat in 1851 gebou is en stap jy al langs die kus af terug tot by SAMREC. 

Wednesday, July 11, 2012

Twaalf Appostels

Die Tafelbergreeks strek van Tafelberg tot by Kaappunt en het heelwat bekende pieke en landmerke wat deel van die bergreeks uitmaak.  Bo en behalwe Tafelberg self is daar ook Leeukop, Duiwelspiek en Seinheuwel met die Twaalf Appostels wat die mees prominente pieke aan die Atlantiese kant van die Skiereiland is.  Die Twaalf Appostels maak vir die perfekte agtergrond teen die luukse strande van Clifton en Kampsbaai. 

Sunday, July 8, 2012

Daar's 'n hoender wat 'n eier nie kan lê

Daar's 'n hoender wat 'n eier nie kan lê,
daar's 'n hoender wat 'n eier nie kan lê,
daar's 'n hoender wat 'n eier nie kan lê,
dis die haan wat op die kerk se toring staan.

Wanneer ek reis en deur 'n klein dorpie ry soek ek altyd na historiese geboue en interessante plekke om te besoek en 'n foto van te neem.  Die eerste ding wat ek doen wanneer ek 'n ou kerk teëkom is om op te kyk na die kerktoring om te sien of daar 'n weerhaan bo-op is.  Die beste ding is dat hulle amper nooit dieselfde is nie en daar altyd 'n nuwe een is om te sien.

Friday, July 6, 2012

Eersterivier sonsondergang

'n Goue sonsondergang op Eersterivier aan die ooste kant van die Tsitsikamma in die Ooskaap

Wednesday, July 4, 2012

Tsitsikamma inheemse woud

Driehonderd jaar gelede het die inheemse woude van die Suidkaap al die pad van omtrent Mosselbaai tot by Humansdorp in die ooste gestrek.  Gedurende die laat 18de en die 19de eeu is groot dele van die woude afgekap om die aanvraag van hout vir die bou van skepe, die spoorweë, geboue en meubels te bevredig.  Dit gepaart met die groot vuur van 1869 en moderne ontwikkeling het daartoe gelei dat daar vandag net 'n klein persentasie van die oorspronklike woud oor is met die grootste dele in die Knysna en Tsitsikamma omgewings.  Die meeste van hierdie oorblywende woude word vandag streng beskerm en val binne die Tuinroete-nasionale park.  Die Plaatbos Natuurreservaat seksie van die woud is geleë in die Stormsrivier area aan die oostekant van die park.

Monday, July 2, 2012

Volstruisresies

Hoeveel mense kan op hulle cv skryf dat hulle 'n professionele volstruisjoggie is?  Nie baie nie, maar as jy hulle in aksie wil sien is die beste plek een of twee van die volstruisplase net buite Oudtshoorn.  Die volstruisresies in die foto vind plaas by Safari Volstruisplaas 'n paar kilometer buite dié bekende Klein Karoo dorp.

Friday, June 29, 2012

Nelson Mandela Square

Nelson Mandela Square is geleë in die hartjie van Sandton, Johannesburg en die fokuspunt van Nelson Mandela Square is 'n ses meter hoë brons standbeeld van die bekende staatsman homself.  Die standbeeld is in 2004 onthul om nie net die tiende verjaardag van Sandton City winkelsentrum te vier nie, maar ook 10 jaar van demokrasie.
Die standbeeld self staan nie net ses meter hoog nie, maar weeg ook 2,5 ton.  Ek wonder of Kobus Hatting en Jacob Maponyane, die kunstenaars verantwoordelik vir die standbeeld, ooit gedink het dat dit seker die mees gefotografeerde standbeeld in Suid-Afrika sou word.

Tuesday, June 26, 2012

Sweef teen sonop met 'n Warmlugballon

Ahhhhhh, om rustig te sweef deur die lug terwyl die son opkom in die ooste. Die stilte word net gebreek deur die klank van die vlam wat kort kort meer warm lug in die ballon inblaas. 'n Uitsig soos min met plaaswerkers wat oppad is lande toe doer onder jou and die Hartebeespoortdam wat glinster in die verte.  Daar is bitter min dinge wat naby kom aan 'n warmlugballon vlug saam met die legendariese Bill Harrop homself.
Ek moet eerlik wees en sê dat 'n vlug op 'n warmlugballon nie regting op by bucketlist was nie omdat ek hoogtevrees het, maar toe ek die kans kry om op 'n vlug te gaan het ek nie nee gesê nie.  Die eerste deel van die vlug het ons reedelik laag gevlieg en vir my was dit die lekkerste deel van die vlug.  Diep in my hart het het bebid dat ons nie regtig baie hoër sal gaan nie, maar ek het geweet dat dit uiteindelik sal kom.
En dit het.  Ek kon hoor die ander mense in die mandjie was baie opgewonde toe Bill aankondig dat dit nou tyd is om bietjie hoogte te kry.  Ek was nie heeltemal so seker nie.  Op, op, op het ons gegaan en op 'n stadeem het ons 1000 meter bo die grond gesweef.  My vingers al hoe dieper in die mandjie se rand probeer indruk en my hart het in my keel geklop.  Maar die adrenalien het gepomp and ek het dit darem reggekry om een of twee fotos daar van bo af te neem. 
Vir 'n uur of so het ek gevoel soos 'n arend wat op die lugstrome sweef, maar voor jy dit weet stryk ons neer en pik die ondersteuningsvoertuig ons op op betyds terug te wees vir ontbyt.  Dit was regtig 'n wonderlikke ervaring om te onthou en oor en oor vir mense van te vertel.  Iets wat ek enigetyd weer sal doen.