Pages

Tuesday, April 30, 2013

Koningstrand

Koningstrand is een van Port Elizabeth se bekendste en mees gewilde strande en strek van die hawemuur tot by die McArthur swembadkompleks.  Die naam kom vanaf die Britse koninklike besoek van 1947 toe die koninklike trein langs die strand getrek is en 'n deel van die strand blykbaar omhein is vir die ekslusiewe gebruik van die koninklike familie.  Die prinsesse het op die strand gaan perdry terwyl die koning ook daar gaan swem het.  Plaaslik is begin om na die strand te verwys as die koning se strand en vandag is dit bekend as Koningstrand.

Wednesday, February 27, 2013

Verwelkoming

'n Lantêring wag vir gaste op hulle aankoms by Camp Figtree in die Zuurberg na 'n wildsbesigtigingsrit in die Addo Olifant Nasionale Park.

Saturday, February 9, 2013

Donkin mosaïek op Roete 67

Een van die mooiste kunsstukke wat deel uitmaak van die nuwe Roete 67 kuns- en kultuurroete in Port Elizabeth is die reuse mosaïek op die Donkin Reservaat.  Die moasïek wat deur studente aan die Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit gedoen is verteenwoordig aspekte van die Ooskaap.  Die sluit in diere, voëls, plante, mense en vele ander dinge.  Route 67 bestaan uit 67 kunswerke wat die 67 jaar wat Nelson Mandela in die publieke oog deurgebring het verteenwoordig.  Dit begin by die Campanile en eindig op die Donkin Reservaat met die kunswerke wat oral langs die roete gesien kan word. 

Tuesday, January 22, 2013

Montagu Museum

Montagu op Route 62 in the Klein Karoo het twee fantastiese museum wat besoekers aan die dorp by kan gaan inloer.  Die Montagu Museum is geleë in die ou Sendingkerk wat in 1907 gebou is en konsentreer op die dorp se kultuur-historiese skatte.  Die museum het verskeie uitstallings met die kerk se preekstoel and ander kerk items wat sentraal hieraan is.  'n Belangrike deel van die museum is die medisinale plantnavorsing wat hier plaasvind en ook uitgestal word.  Agter die museum is ook 'n pragtige roostuin wat dateer uit die dorp se vroeë jare.  Die ander museum op die dorp wat die moeite werd is om te besoek is Jouberthuis so bietjie verder af in die straat.

Friday, January 11, 2013

Waar ruwe rotse


Die berge buite Montagu soos jy deur die poort ry is absoluut asemrowend.  In die Jouberthuis Museum op die dorp hang 'n ou foto van dieslefde berg as in die foto hierbo.  Die vrou wat daar werk het gesien dat ek na die foto staan en kyk en vra toe of ek die gedig "Waar ruwe rotse" ken.  Die digter, C M van den Heever (1902-1957), was oorspronlik ‘n Vrystater en het blykbaar op 'n stadium ook in Montagu gewoon. 
 
Die gedig verwys na die tragiese verhaal van ‘n pa wie se seun in ’n klipskeur val en hoe daar dae lank te vergeefs gepoog is om die seun te red.  Die seun smeek uiteindelik sy pa om hom te skiet. Dit word in die algemeen aanvaar dat die gedig gebasseer is op 'n ware verhaal wat op die plaas Aasvogelkop naby Smithfield in die Vrystaat afgespeel het, maar daar is ander mense wat sê dit kom uit die Weskaap êrens.

 
 
Waar ruwe rotse
 
Waar ruwe rotse teen die hemel klim,
waar morerooi se eerste traanglans glim,

waar aasvoëls hoog in sirkelbane sweef,
hul rou gekras in afgronde laat leef;

waar grou-wit kranse na die klowe val,
gekeep-hou tot spelonke bo 'n dal;

waar oopgeskeurde klippekake wag
met draketande wat daar grynsend lag –

daar knal opeens geweerskoot bo die kruin
en eggo’s antwoord hard met skelbasuin.

Die dassies wip verskrik oor gladde krans,
patryse saai vlerktrillend uit hul skans.

Skuins glip 'n voet en drillend val 'n roer...
'n skerp geskuur – 'n pad wat afwaarts voer.

Twee hande gryp 'n bos, die angs oorstelp,
benoud klink uit die diepte: “Here, help!”

Twee vader-oë kyk verward...sy seun,
die afgrond lag oor wilde skuurgedreun.

Die kruit en stof vlek oor die lug se blou,
die vader bly sy hand oor sy oë hou.

En dan gewaar hy in die skemering
sy kind, deur rotseskouers vasgedring.

'n Riem rol na die seun daaronder neer,
“Bind vas, my kind...en Pa die sal probeer.”

Maar dis vergeefs...die kransedraak hou vas,
die riem bly stukkend breek, kry las op las.

En hulp snel by...die rotsetande gryns,
hier moet die mensverstand terug voor deins.

Dan klaag daar uit die diepte, sag en flou:
“Ek smeek dat Pa my skiet...en nou...”

'n Roer die bewe in die growwe hand,
sag sif in skemerafgrond korrels sand.

Vas lê die kolf teen vaderskouer aan,
en langs die sneller glans 'n afloop-traan.

“Vergeef my, God!”...’n skoot gedemp en dof...
en bo die bergegraf styg kruit en stof.

Nog skuur iets rog’lend in die diepte daar,
dis stil...die aasvoëls kras...’n vader staar.

Sunday, December 16, 2012

Lewer in die township

Ek is mal oor lewer, maar nie almal is groot aanhangers daarvan nie.  In die townships is dit wel baie gewild en word verkoop op baie straathoeke waar kos gemaak en direk uit die potte aan verbygangers verkoop word.  Onlangs het ek 'n toer vir 'n groep na New Brighton township in Port Elizabeth gereel en een van die stopplekke was 'n "wegneemete" hoek. 

Hier het een van my kollegas 'n pot lewer en uie voorberei en alhoewel baie van die mense op die toer met opgetrekte wenkbroue daarna gekyk het het hulle gou ingespring en die bak leeggemaak.  Ek het nog gehoop vir 'n laaste happie toe was daar net uie oor. 

Monday, December 3, 2012

Klein treintjies

Op die eerste Sondag van die maand stroom baie families met klein (en ander met nie so klein) kinders na die Port Elizabeth Model Locomotive Society se maandelikse oop dag.  Families staan al van vroeg af tou om op die treintjies te ry met veral die stoom lokomotiewe wat baie aftrek kry.  Die rit vat wel net 'n paar minute, maar sluit in 'n tonnel, die Groot Grasrivier brug en 'n paar draaie deur die gronde in. En die beste van alles.  Dit kos net ongeveer R6 per rit.