Pages

Friday, January 11, 2013

Waar ruwe rotse


Die berge buite Montagu soos jy deur die poort ry is absoluut asemrowend.  In die Jouberthuis Museum op die dorp hang 'n ou foto van dieslefde berg as in die foto hierbo.  Die vrou wat daar werk het gesien dat ek na die foto staan en kyk en vra toe of ek die gedig "Waar ruwe rotse" ken.  Die digter, C M van den Heever (1902-1957), was oorspronlik ‘n Vrystater en het blykbaar op 'n stadium ook in Montagu gewoon. 
 
Die gedig verwys na die tragiese verhaal van ‘n pa wie se seun in ’n klipskeur val en hoe daar dae lank te vergeefs gepoog is om die seun te red.  Die seun smeek uiteindelik sy pa om hom te skiet. Dit word in die algemeen aanvaar dat die gedig gebasseer is op 'n ware verhaal wat op die plaas Aasvogelkop naby Smithfield in die Vrystaat afgespeel het, maar daar is ander mense wat sê dit kom uit die Weskaap êrens.

 
 
Waar ruwe rotse
 
Waar ruwe rotse teen die hemel klim,
waar morerooi se eerste traanglans glim,

waar aasvoëls hoog in sirkelbane sweef,
hul rou gekras in afgronde laat leef;

waar grou-wit kranse na die klowe val,
gekeep-hou tot spelonke bo 'n dal;

waar oopgeskeurde klippekake wag
met draketande wat daar grynsend lag –

daar knal opeens geweerskoot bo die kruin
en eggo’s antwoord hard met skelbasuin.

Die dassies wip verskrik oor gladde krans,
patryse saai vlerktrillend uit hul skans.

Skuins glip 'n voet en drillend val 'n roer...
'n skerp geskuur – 'n pad wat afwaarts voer.

Twee hande gryp 'n bos, die angs oorstelp,
benoud klink uit die diepte: “Here, help!”

Twee vader-oë kyk verward...sy seun,
die afgrond lag oor wilde skuurgedreun.

Die kruit en stof vlek oor die lug se blou,
die vader bly sy hand oor sy oë hou.

En dan gewaar hy in die skemering
sy kind, deur rotseskouers vasgedring.

'n Riem rol na die seun daaronder neer,
“Bind vas, my kind...en Pa die sal probeer.”

Maar dis vergeefs...die kransedraak hou vas,
die riem bly stukkend breek, kry las op las.

En hulp snel by...die rotsetande gryns,
hier moet die mensverstand terug voor deins.

Dan klaag daar uit die diepte, sag en flou:
“Ek smeek dat Pa my skiet...en nou...”

'n Roer die bewe in die growwe hand,
sag sif in skemerafgrond korrels sand.

Vas lê die kolf teen vaderskouer aan,
en langs die sneller glans 'n afloop-traan.

“Vergeef my, God!”...’n skoot gedemp en dof...
en bo die bergegraf styg kruit en stof.

Nog skuur iets rog’lend in die diepte daar,
dis stil...die aasvoëls kras...’n vader staar.

2 comments:

  1. Wow, I love the uplifted stratigraphy and curves. Finally looked up this area on the map. (and found this site, thank you translator). Are there really hot springs near Montagu?

    ReplyDelete
  2. Dit lyk vir my na "ons ewige gebergtes"!! ;)

    ReplyDelete