Pages

Sunday, July 8, 2012

Daar's 'n hoender wat 'n eier nie kan lê

Daar's 'n hoender wat 'n eier nie kan lê,
daar's 'n hoender wat 'n eier nie kan lê,
daar's 'n hoender wat 'n eier nie kan lê,
dis die haan wat op die kerk se toring staan.

Wanneer ek reis en deur 'n klein dorpie ry soek ek altyd na historiese geboue en interessante plekke om te besoek en 'n foto van te neem.  Die eerste ding wat ek doen wanneer ek 'n ou kerk teëkom is om op te kyk na die kerktoring om te sien of daar 'n weerhaan bo-op is.  Die beste ding is dat hulle amper nooit dieselfde is nie en daar altyd 'n nuwe een is om te sien.

Friday, July 6, 2012

Eersterivier sonsondergang

'n Goue sonsondergang op Eersterivier aan die ooste kant van die Tsitsikamma in die Ooskaap

Wednesday, July 4, 2012

Tsitsikamma inheemse woud

Driehonderd jaar gelede het die inheemse woude van die Suidkaap al die pad van omtrent Mosselbaai tot by Humansdorp in die ooste gestrek.  Gedurende die laat 18de en die 19de eeu is groot dele van die woude afgekap om die aanvraag van hout vir die bou van skepe, die spoorweë, geboue en meubels te bevredig.  Dit gepaart met die groot vuur van 1869 en moderne ontwikkeling het daartoe gelei dat daar vandag net 'n klein persentasie van die oorspronklike woud oor is met die grootste dele in die Knysna en Tsitsikamma omgewings.  Die meeste van hierdie oorblywende woude word vandag streng beskerm en val binne die Tuinroete-nasionale park.  Die Plaatbos Natuurreservaat seksie van die woud is geleë in die Stormsrivier area aan die oostekant van die park.

Monday, July 2, 2012

Volstruisresies

Hoeveel mense kan op hulle cv skryf dat hulle 'n professionele volstruisjoggie is?  Nie baie nie, maar as jy hulle in aksie wil sien is die beste plek een of twee van die volstruisplase net buite Oudtshoorn.  Die volstruisresies in die foto vind plaas by Safari Volstruisplaas 'n paar kilometer buite dié bekende Klein Karoo dorp.

Friday, June 29, 2012

Nelson Mandela Square

Nelson Mandela Square is geleë in die hartjie van Sandton, Johannesburg en die fokuspunt van Nelson Mandela Square is 'n ses meter hoë brons standbeeld van die bekende staatsman homself.  Die standbeeld is in 2004 onthul om nie net die tiende verjaardag van Sandton City winkelsentrum te vier nie, maar ook 10 jaar van demokrasie.
Die standbeeld self staan nie net ses meter hoog nie, maar weeg ook 2,5 ton.  Ek wonder of Kobus Hatting en Jacob Maponyane, die kunstenaars verantwoordelik vir die standbeeld, ooit gedink het dat dit seker die mees gefotografeerde standbeeld in Suid-Afrika sou word.

Tuesday, June 26, 2012

Sweef teen sonop met 'n Warmlugballon

Ahhhhhh, om rustig te sweef deur die lug terwyl die son opkom in die ooste. Die stilte word net gebreek deur die klank van die vlam wat kort kort meer warm lug in die ballon inblaas. 'n Uitsig soos min met plaaswerkers wat oppad is lande toe doer onder jou and die Hartebeespoortdam wat glinster in die verte.  Daar is bitter min dinge wat naby kom aan 'n warmlugballon vlug saam met die legendariese Bill Harrop homself.
Ek moet eerlik wees en sê dat 'n vlug op 'n warmlugballon nie regting op by bucketlist was nie omdat ek hoogtevrees het, maar toe ek die kans kry om op 'n vlug te gaan het ek nie nee gesê nie.  Die eerste deel van die vlug het ons reedelik laag gevlieg en vir my was dit die lekkerste deel van die vlug.  Diep in my hart het het bebid dat ons nie regtig baie hoër sal gaan nie, maar ek het geweet dat dit uiteindelik sal kom.
En dit het.  Ek kon hoor die ander mense in die mandjie was baie opgewonde toe Bill aankondig dat dit nou tyd is om bietjie hoogte te kry.  Ek was nie heeltemal so seker nie.  Op, op, op het ons gegaan en op 'n stadeem het ons 1000 meter bo die grond gesweef.  My vingers al hoe dieper in die mandjie se rand probeer indruk en my hart het in my keel geklop.  Maar die adrenalien het gepomp and ek het dit darem reggekry om een of twee fotos daar van bo af te neem. 
Vir 'n uur of so het ek gevoel soos 'n arend wat op die lugstrome sweef, maar voor jy dit weet stryk ons neer en pik die ondersteuningsvoertuig ons op op betyds terug te wees vir ontbyt.  Dit was regtig 'n wonderlikke ervaring om te onthou en oor en oor vir mense van te vertel.  Iets wat ek enigetyd weer sal doen.

Thursday, June 21, 2012

Die gezoem van die bye

Daar is 'n gesegde wat sê: "Gaan groot of gaan huis toe".  Miskien het hierdie heuningby dit gedink op haar daaglikse nektar ronde.  Hoekom nou in klein blommetjies gaan rondkrap as daar 'n perfekte goeie Koningsprotea is om in te gaan nektar versamel.