Pages

Friday, August 10, 2012

Plettenbergbaai sonopkoms

Sonopkoms en sonsondergang fotos is van my gunsteling fotos om te neem.  So rukkie terug het ons 'n naweek op Plettenbergbaai deurgebring.  Dit was 'n bibberend koue oggend en ek het maar gesukkel om uit die bed te kom, maar wou graag op die strand wees vir sonopkoms.  Dit was die moeite werd, want daardie oggend het ek van my gunsteling sonopkoms fotos geneem.  Die enigste probleem was dat ek gevoel het dat ek 'n fokuspunt of onderwerp in die voorgrond wou hê en daar nie regtig iets was nie.  Onnodig om te sê dat as enige iemand my daai oggend gesien het op en af hardloop op die strand, hulle seker lekker sou gelag het.

Tuesday, August 7, 2012

Drakensberg wandelpad - Die Wandellied

Vir die een of ander rede het ek vandat ek met RaakREIS begin het en bloginskrywings in Afrikaans doen, skielik baie van die ou Afrikaanse Volksliedjies begin onthou as ek na van my fotos kyk.  Dis eintlik hartseer dat ons dit nie meer so baie sing soos wat ons gedoen het jare terug nie.  Hierdie foto is geneem op die Tigerfalls wandelroete in die Koninklike Natalse Reservaat in die Drakensberge en het my dadelik laat dink aan die Wandellied.

Wandellied

As ek moeg word vir die lewe in die stad, lok my die wandelpad;
As ek moeg word vir die lewe in die stad, lok my die wandelpad;
in die veld pluk ek 'n wandelstaf van die naaste doringboompie af,
en sing my wandellied, en sing my wandellied.

Of ek luister na my eie voeteval op pad oor berg en dal.
Of ek luister na my eie voeteval op pad oor berg en dal.
Dan's ek weer die eensaam wandelaar na die lekker landstreek wie-weet-waar,
'n swerwer lewenslank, 'n swerwer lewenslank.

En die blou plafon wat oor die velde strek sal saans my sluimer dek.
En die blou plafon wat oor die velde strek sal saans my sluimer dek.
En die sterreheer sal kom en gaan oor die maanverligte hemelbaan
en vriend'lik wink van ver, en vriend'lik wink van ver.

Saturday, August 4, 2012

Dias Museum

Daai dag in 1488 toe Bartolomeu Dias in 'n storm om die Kaap gevaar and kort daarna in wat vandag Mosselbaai is geland het, sou hy seker nooit kon raai dat op daardie selfde plek vandag 'n museum sou staan wat sy naam dra nie.  Die Dias Museum kompleks het 'n fantastiese verskeindenheid van attraksies en sluit 'n skulpiesmuseum, die Munrohoekhuisies, die oorspronklike varswaterfontein waar Dias se matrose water geskep het om aan boort te neem en die Poskantoorboom in.  Die Poskantoorboom is 'n 800 jaar oue melkhoutboom waar vroeë matrose boodskappe in ou skoene gelos het met die hoop dat bote oppad terug Portugal toe dit sou optel en terugvat.

Die hoofrede hoekom mense na die Dias Museum toe kom is die Maritime Museum wat 'n lewensgrote replika van die karveel waarmee Dias en sy bemanning in 1488  die groot onbekende aangevat het bevat.  Die replika is 500 jaar na die oorspronklike een gebou en is in 1988 vanaf Portugal na Suid-Afrika gevaar voor dit in die museum gehuisves is.

Monday, July 30, 2012

Springende krokedille

Die Kango Wildlife Ranch in Oudtshoorn het 'n lang pad gekom van die dae toe dit net 'n krokodilplaas was.  Alhoewel daar deesdae baie ander dinge is om te sien by hierdie bekende attraksie speel krokodille nog altyd 'n rol.  By die Springende Kake (Jumping Jaws) word die krokodil uit die water uit gelok met 'n stuk vleis.  Hy spring letterlik halflyf uit om die vleis te vat en terwyl dit gebeur staan besoekers met opgehoue asems om te sien of die gids darem met altwee sy arms gaan terugkom.  

Friday, July 27, 2012

Kaap Recife vuurtoring

Die Kaap Recife vuurtoring is op 1 April 1851 in gebruik geneem en staan net buite Port Elizabeth op die westelike punt van Algoabaai.  Kaap Recife is die draaipunt in Algoabaai in en word verskriklik gevaarlikste geag as gevolg van Thunderbolt-rif wat oor die eeue al verskeie bote en skepe geëis het.  Die rif self is vernoem na die HMS Thunderbolt wat in 1847 daar op die rotse geloop het.  The vuurtoring is 24 meter hoog en die lig is 4 000 000 kerskrag sterk.  Hy flits elke 30 sekondes en kan 29 seemyl ver gesien word.

Tuesday, July 24, 2012

Volstruise

As ek mag wil ek graag die lirieke van Groot Voël Paradys deur Jacques de Coning aanhaal om saam met hierdie foto te gaan.

Oudtshoorn is 'n grootvoël paradys,
los jou budgy by die huis en ek sal jou 'n groot voël wys.
Oudtshoorn is 'n grootvoël paradys,
Los jou mossie by die bossie en kom speel met my volstruis.

Kom sit hier op my skoot dan vertel ek vir jou,
van die grootste voël wat ek gesien het my vrou.
Dit was daar by die Klein Karoo Kunstefees,
as ek 'n voël kon kies dan sou dit daai een wees.

Daai voël se nek is so lank soos 'n paal,
en hy sit op twee eiers, 'n heerlike maal.
Maar as hy opstaan daai voël, dan is hy twee keer so groot,
so pasop as hy skop hy los 'n vreeslike knop.

Saturday, July 21, 2012

Seepampoentjie

Almal wat al langs 'n Suid-Afrikaanse strand gestap het moes die een of ander tyd êrens 'n seepampoentjie opgetel het.  Ek weet 'n seepampoentjie is 'n "sea urchin" in Engels, maar het nog altyd gewonder of dit dalk 'n ander naam in Afrikaans het wanneer dit nog leef.  Die eerste een wat ek besluit om te vra was my goeie vriend Google.  Hy laat my selde in die steek en hierdie geleendheid was nie anders nie.  Penny Nyren se boek Ontdek Stande was bo-aan die soeklys en daarin sê sy dat 'n lewende seepampoentjie 'n see-engel genoem word.  See-engele woon gewoonlik op koraalriwwe of in rotspoele en het skerp penne wat hulle hele dop (skulp) bedek.  Hierdie gevaarlike penne word gebruik om hulle te beskerm en is gewoonlik giftig.  Probeer om nie in een van hulle te trap nie, want daardie einste penne breek maklik in jou voet af en kan maklik infeksie veroorsaak.  Die seepampoentjie in die foto het ek gekry op 'n rots by die Knysnakoppe en moes deur iemand daar neergesit geword het nie lank voor my nie.