Pages

Thursday, May 3, 2012

Die Groot Vyf

Wie of wat is die Groot Vyf?  Kom ons wees meer spesifiek en sê die Groot Vyf van die diereryk, anders dink mense dalk ons praat van lande, natuurwonders of toerisme-attraksies.  So, wie of wat is die Groot Vyf van die diereryk?  Dis nie die vyf grootste diere of die mooiste vyf nie, maar die vyf wilde diere wat die gevaarlikste was om te voet te jag in Afrika.  Ek sê was want vandag is dit niks om 'n dier vanaf die agterkant van 'n bakkie of uit 'n helikopter te skiet nie. 

Die eerste en grootste dier op die lys is die olifant wat tot die familie Elephantidae behoort.  Die Afrika-olifant  (Loxodonta africana) is beide algeheel groter en het groter ore as die Indiese olifant (Elephas maximus), wat beperk is tot Indië en Suidoos-Asië.  Die soogdier wat huidiglik die nouste verwant is aan olifante is ... wag vir dit ... die Suid-Afrikaanse dassie.  Dit is omdat beide dieselfde beenstruktuur in hulle voete het.  Die foto is in die Addo Nasionale Olifantpark geneem wat seker een van die beste plekke in die land is om wilde olifante van redelik naby te besigtig.

Die leeu (Panthera leo) is een van die vier "groot katte" in die genus Panthera.  Dit is die tweede grootste katspesie naas die tier en weeg tussen 150 en 250 kilogram.  In die natuur word leeus tussen 10 en 14 jaar oud, terwyl dié in gevangenskap tot oor die 20 jaar oud kan word.  Hulle word nie verniet die koning van die oerwoud genoem nie, alhoewel hulle nie regtig oerwoud diere is nie en eerder op die savana's en bosveld van Afrika voorkom.

Daar is gereeld besprekings onder mense oor of dit die swart- of wit-renoster is wat ingesluit is in die Groot Vyf.  Die kleiner swartrenoster (Diceros bicornis) kom gewoonlik in bosse voor en is die meer aggresiewe van die twee terwyl die witrenoster (Cerarotherium simum) meer in ooptes voorkom omdat hy gras eet.  Die swart-renoster is die een was oorspronklik ingesluit is in die Groot 5 alhoewel albei oor die algemene aanvaar word.  Renosters is in die laaste tyd verskriklik geteiken vir hulle horings wat op die swartmark in die Ooste verkoop word.  Dit het so erg geraak dat ek nie met veiligheid kan sê waar die foto van die swartrenoster hierbo geneem is nie.

Die buffel is 'n gelyktonige hoefdier van die familie Bovidia, en die subfamilie Bovinae.  Die buffel word geken as 'n formidabele en onvoorspelbare teenstander en kan tot 56km/uur hardloop.  Buffels is sekerlik die mees onderskatte van die Groot Vyf en 'n gewonde buffel is uiters gevaarlik met verskeie jagters wat al gedood is in buffelaanvalle. Ou veldkenners beweer dat 'n gewonde buffel op sy spore teruggaan en die jagter sal voorlê.  Die Kaapse Buffels in die Addo Nasionale Olifantpark het hulle hele manier van lewe verander na hulle amper uitgeskiet is in die vroeër 1900's en het so te sê nagdiere geword todat leeus weer in die park ingebring is in die vroeër 2000's.  Voor die leeus se koms het jy amper nooit die buffels in die park gesien nie terwyl hulle nou weer algemeen in ooptes voorkom. 

Laaste, maar nie die minste nie is my gunsteling dier.  Die luiperd (Panthera pardus) was voorheen as bergtier of tier bekend en is 'n lid van die katfamilie. Luiperds is na tiers, leeus en jaguars die vierde grootste groot-kat met die poema volgende grootste.  Luiperds is nagdiere met 'n volwasse luiperd wat ongeveer 60 kg weeg en'n algemene hoogte van 60 cm bereik.  Die luiperds in die noorde van Suid Afrika word baie meer gereeld gesien as die in die Ooskaap en Weskaap.

1 comment: