Montagu op Route 62 in the Klein Karoo het twee fantastiese museum wat besoekers aan die dorp by kan gaan inloer. Die Montagu Museum is geleë in die ou Sendingkerk wat in 1907 gebou is en konsentreer op die dorp se kultuur-historiese skatte. Die museum het verskeie uitstallings met die kerk se preekstoel and ander kerk items wat sentraal hieraan is. 'n Belangrike deel van die museum is die medisinale plantnavorsing wat hier plaasvind en ook uitgestal word. Agter die museum is ook 'n pragtige roostuin wat dateer uit die dorp se vroeë jare. Die ander museum op die dorp wat die moeite werd is om te besoek is Jouberthuis so bietjie verder af in die straat.
Tuesday, January 22, 2013
Montagu Museum
Waar is die fotos geneem:
Bergsig, Montagu, South Africa
Friday, January 11, 2013
Waar ruwe rotse
Die berge buite Montagu soos jy deur die poort ry is absoluut asemrowend. In die Jouberthuis Museum op die dorp hang 'n ou foto van dieslefde berg as in die foto hierbo. Die vrou wat daar werk het gesien dat ek na die foto staan en kyk en vra toe of ek die gedig "Waar ruwe rotse" ken. Die digter, C M van den Heever (1902-1957), was oorspronlik ‘n Vrystater en het blykbaar op 'n stadium ook in Montagu gewoon.
Die gedig verwys na die tragiese verhaal van ‘n pa wie se seun in ’n klipskeur val en hoe daar dae lank te vergeefs gepoog is om die seun te red. Die seun smeek uiteindelik sy pa om hom te skiet. Dit word in die algemeen aanvaar dat die gedig gebasseer is op 'n ware verhaal wat op die plaas Aasvogelkop naby Smithfield in die Vrystaat afgespeel het, maar daar is ander mense wat sê dit kom uit die Weskaap êrens.
Waar ruwe rotse
Waar ruwe rotse teen die hemel
klim,
waar morerooi se eerste traanglans glim,
waar aasvoëls hoog in sirkelbane
sweef,
hul rou gekras in afgronde laat leef; waar grou-wit kranse na die klowe val, gekeep-hou tot spelonke bo 'n dal; waar oopgeskeurde klippekake wag met draketande wat daar grynsend lag – daar knal opeens geweerskoot bo die kruin en eggo’s antwoord hard met skelbasuin. Die dassies wip verskrik oor gladde krans, patryse saai vlerktrillend uit hul skans. Skuins glip 'n voet en drillend val 'n roer... 'n skerp geskuur – 'n pad wat afwaarts voer. Twee hande gryp 'n bos, die angs oorstelp, benoud klink uit die diepte: “Here, help!” Twee vader-oë kyk verward...sy seun, die afgrond lag oor wilde skuurgedreun. Die kruit en stof vlek oor die lug se blou, die vader bly sy hand oor sy oë hou. En dan gewaar hy in die skemering sy kind, deur rotseskouers vasgedring. 'n Riem rol na die seun daaronder neer, “Bind vas, my kind...en Pa die sal probeer.” Maar dis vergeefs...die kransedraak hou vas, die riem bly stukkend breek, kry las op las. En hulp snel by...die rotsetande gryns, hier moet die mensverstand terug voor deins. Dan klaag daar uit die diepte, sag en flou: “Ek smeek dat Pa my skiet...en nou...” 'n Roer die bewe in die growwe hand, sag sif in skemerafgrond korrels sand. Vas lê die kolf teen vaderskouer aan, en langs die sneller glans 'n afloop-traan. “Vergeef my, God!”...’n skoot gedemp en dof... en bo die bergegraf styg kruit en stof. Nog skuur iets rog’lend in die diepte daar, dis stil...die aasvoëls kras...’n vader staar. |
© Kopiereg - C.M. van den Heever hou die kopiereg van die gedigte op hierdie bladsy
|
Waar is die fotos geneem:
Montagu Mountain Local Nature Reserve, Montagu 6720, South Africa
Sunday, December 16, 2012
Lewer in die township
Ek is mal oor lewer, maar nie almal is groot aanhangers daarvan nie. In die townships is dit wel baie gewild en word verkoop op baie straathoeke waar kos gemaak en direk uit die potte aan verbygangers verkoop word. Onlangs het ek 'n toer vir 'n groep na New Brighton township in Port Elizabeth gereel en een van die stopplekke was 'n "wegneemete" hoek.
Hier het een van my kollegas 'n pot lewer en uie voorberei en alhoewel baie van die mense op die toer met opgetrekte wenkbroue daarna gekyk het het hulle gou ingespring en die bak leeggemaak. Ek het nog gehoop vir 'n laaste happie toe was daar net uie oor.
Kategorieë:
kos,
Ooskaap,
Port Elizabeth,
townships
Waar is die fotos geneem:
65290 C Ave, Ibhayi 6200, South Africa
Monday, December 3, 2012
Klein treintjies
Op die eerste Sondag van die maand stroom baie families met klein (en ander met nie so klein) kinders na die Port Elizabeth Model Locomotive Society se maandelikse oop dag. Families staan al van vroeg af tou om op die treintjies te ry met veral die stoom lokomotiewe wat baie aftrek kry. Die rit vat wel net 'n paar minute, maar sluit in 'n tonnel, die Groot Grasrivier brug en 'n paar draaie deur die gronde in. En die beste van alles. Dit kos net ongeveer R6 per rit.
Kategorieë:
kinder aktiwiteite,
Ooskaap,
Port Elizabeth,
treine,
vervoer
Waar is die fotos geneem:
33 Stella Londt Dr, Port Elizabeth 6045, South Africa
Monday, November 26, 2012
Kaap die Goeie Hoop
Die Kaap die Goeie Hoop is die naam van die mees suid-westelike landpunt van Afrika en is letterlik 'n klipgooi van Kaappunt af geleë. Dit is tradisioneel (en verkeerdelik net soos met Kaappunt) geag as die punt waar die Atlantiese Oseaan en die Indiese Oseaan mekaar ontmoet, terwyl die eintlike ontmoetingspunt verder ooswaarts by Kaap Agulhas - Afrika se mees suidelikste punt - is. Die koue Benguelastroom wat van Antarktika af noord vloei, ontmoet wel die warm Agulhas-stroom naby die Kaap die Goeie Hoop.
Die meeste besoekers aan Kaappunt besoek ook die Kaap die Goeie Hoop en met sekere tye staan mens omtrent in 'n tou om 'n kans te kry vir 'n foto by die bordjie (soos ek hier maak).
Kategorieë:
Kaapstad,
kuslyn,
Tafelberg Nasionale Park,
Weskaap
Waar is die fotos geneem:
Unnamed Rd, Cape Town, South Africa
Monday, November 19, 2012
Noetzie - Kastele op die strand
So 'n paar kilometer buite die Tuinroete dorp Knysna, aan die einde van 'n grondpad, is 'n baie unieke plek met die naam Noetzie. Noetzie (Khoi-San vir Donker Water) het 'n pragtige strand en strandmeer omring deur inheemse woude, maar wat Noetzie laat uitstaan is die feit dat daar verskeie kastele langs die strand is. Die area is reg van Knysna se begin jare af 'n plekkie waar die plaaslike inwoners oor naweke gaan kamp het. Die eerste kasteel is in 1932 uit plaaslike klip as 'n vakansiehuis gebou met verskeie ander wat in die volgende paar dekades gevolg het.
Waar is die fotos geneem:
10 Fairlead Way, Knysna 6571, South Africa
Tuesday, November 13, 2012
Kaappunt se vuurtorings
Kaappunt in die Kaap van Goeie Hoop Natuurreservaat is seker een van die plekke wat die meeste besoekers ontvang in Suid Afrika. Alhoewel Kaappunt nie die mees suidelikste punt in Afrika is nie, is dit die suidelikste punt van die Kaapse Skiereiland en een van die plekke waarheen besoekers gaan as hulle om die Skiereiland toer. Die ou Kaappuntvuurtoring by Kaap Maclear is een van twee vuurtorings by Kaappunt en kan bereik word deur of die trappies te klim of die makliker opsie wat die Vlieënde Hollander kabelbaan is te gebruik. Die ou vuurtoring is op 1 Mei 1860 opgerig op 'n hoogte van 249 meter bo seevlak. Die toring was egter te hoog en is gereeld in die mis waar dit dan nie deur skepe gesien kon word nie. Nadat die Lusitania, 'n Portugese skip, op 18 April 1911 gestrand het, is daar besluit om 'n nuwe toring op te rig.
Wanneer mens opgeklim het tot by die ou vuurtoring kan jy Kaappunt self met sy loodregte kranse sien waar dit afreik tot waar die see op die rotse breek.
Reg onder op Dias Punt is die "nuwe" Kaappuntvuurtoring. Die hoeksteen van die nuwe toring is op 25 April 1914 gelê, maar dit is eers na die Eerste Wêreldoorlog voltooi en in gebruik geneem. Die toring se lamp wat omtrent 87 meter bo seevlak lê is teen sonsondergang op 11 Maart 1919 deur 'n driejaaroue meisie, Thurl Cooper, dogter van die die vuurtoring ingenieur H.C. Cooper, aangesteek. Die nuwe Kaappuntvuurtoring is die kragtigste in Suid-Afrika en die 10 000 000 kerskrag lig flits drie keer elke dertig sekondes.
Kategorieë:
Kaapstad,
kuslyn,
natuurreservaat,
Tafelberg Nasionale Park,
vuurtorings,
Weskaap
Waar is die fotos geneem:
Cape Point, Table Mountain National Park, Cape Town, South Africa
Subscribe to:
Posts (Atom)




