Koningstrand is een van Port Elizabeth se bekendste en mees gewilde strande en strek van die hawemuur tot by die McArthur swembadkompleks. Die naam kom vanaf die Britse koninklike besoek van 1947 toe die koninklike trein langs die strand getrek is en 'n deel van die strand blykbaar omhein is vir die ekslusiewe gebruik van die koninklike familie. Die prinsesse het op die strand gaan perdry terwyl die koning ook daar gaan swem het. Plaaslik is begin om na die strand te verwys as die koning se strand en vandag is dit bekend as Koningstrand.
Showing posts with label kuslyn. Show all posts
Showing posts with label kuslyn. Show all posts
Tuesday, April 30, 2013
Koningstrand
Kategorieë:
kuslyn,
Ooskaap,
Port Elizabeth,
strande
Waar is die fotos geneem:
Humewood Extention, Port Elizabeth, South Africa
Monday, November 26, 2012
Kaap die Goeie Hoop
Die Kaap die Goeie Hoop is die naam van die mees suid-westelike landpunt van Afrika en is letterlik 'n klipgooi van Kaappunt af geleë. Dit is tradisioneel (en verkeerdelik net soos met Kaappunt) geag as die punt waar die Atlantiese Oseaan en die Indiese Oseaan mekaar ontmoet, terwyl die eintlike ontmoetingspunt verder ooswaarts by Kaap Agulhas - Afrika se mees suidelikste punt - is. Die koue Benguelastroom wat van Antarktika af noord vloei, ontmoet wel die warm Agulhas-stroom naby die Kaap die Goeie Hoop.
Die meeste besoekers aan Kaappunt besoek ook die Kaap die Goeie Hoop en met sekere tye staan mens omtrent in 'n tou om 'n kans te kry vir 'n foto by die bordjie (soos ek hier maak).
Kategorieë:
Kaapstad,
kuslyn,
Tafelberg Nasionale Park,
Weskaap
Waar is die fotos geneem:
Unnamed Rd, Cape Town, South Africa
Monday, November 19, 2012
Noetzie - Kastele op die strand
So 'n paar kilometer buite die Tuinroete dorp Knysna, aan die einde van 'n grondpad, is 'n baie unieke plek met die naam Noetzie. Noetzie (Khoi-San vir Donker Water) het 'n pragtige strand en strandmeer omring deur inheemse woude, maar wat Noetzie laat uitstaan is die feit dat daar verskeie kastele langs die strand is. Die area is reg van Knysna se begin jare af 'n plekkie waar die plaaslike inwoners oor naweke gaan kamp het. Die eerste kasteel is in 1932 uit plaaslike klip as 'n vakansiehuis gebou met verskeie ander wat in die volgende paar dekades gevolg het.
Waar is die fotos geneem:
10 Fairlead Way, Knysna 6571, South Africa
Tuesday, November 13, 2012
Kaappunt se vuurtorings
Kaappunt in die Kaap van Goeie Hoop Natuurreservaat is seker een van die plekke wat die meeste besoekers ontvang in Suid Afrika. Alhoewel Kaappunt nie die mees suidelikste punt in Afrika is nie, is dit die suidelikste punt van die Kaapse Skiereiland en een van die plekke waarheen besoekers gaan as hulle om die Skiereiland toer. Die ou Kaappuntvuurtoring by Kaap Maclear is een van twee vuurtorings by Kaappunt en kan bereik word deur of die trappies te klim of die makliker opsie wat die Vlieënde Hollander kabelbaan is te gebruik. Die ou vuurtoring is op 1 Mei 1860 opgerig op 'n hoogte van 249 meter bo seevlak. Die toring was egter te hoog en is gereeld in die mis waar dit dan nie deur skepe gesien kon word nie. Nadat die Lusitania, 'n Portugese skip, op 18 April 1911 gestrand het, is daar besluit om 'n nuwe toring op te rig.
Wanneer mens opgeklim het tot by die ou vuurtoring kan jy Kaappunt self met sy loodregte kranse sien waar dit afreik tot waar die see op die rotse breek.
Reg onder op Dias Punt is die "nuwe" Kaappuntvuurtoring. Die hoeksteen van die nuwe toring is op 25 April 1914 gelê, maar dit is eers na die Eerste Wêreldoorlog voltooi en in gebruik geneem. Die toring se lamp wat omtrent 87 meter bo seevlak lê is teen sonsondergang op 11 Maart 1919 deur 'n driejaaroue meisie, Thurl Cooper, dogter van die die vuurtoring ingenieur H.C. Cooper, aangesteek. Die nuwe Kaappuntvuurtoring is die kragtigste in Suid-Afrika en die 10 000 000 kerskrag lig flits drie keer elke dertig sekondes.
Kategorieë:
Kaapstad,
kuslyn,
natuurreservaat,
Tafelberg Nasionale Park,
vuurtorings,
Weskaap
Waar is die fotos geneem:
Cape Point, Table Mountain National Park, Cape Town, South Africa
Monday, September 10, 2012
Knysnakoppe
Die Knysnakoppe by Knysna in die Weskaap is een van Suid Afrika se bekendste natuurlike landmerke en word gereeld in reistydskrifte en brosjures gesien. Die Koppe is ook een van die gevaarlikste ingange tot 'n natuurlike hawe in die wêreld met menige bote wat al hier deur die branders omgeslaan is of op die rotse geloop het.
Kategorieë:
Knysna,
kuslyn,
landskappe,
Tuinroete,
Weskaap
Waar is die fotos geneem:
4 View Point, Knysna 6571, South Africa
Saturday, July 21, 2012
Seepampoentjie
Almal wat al langs 'n Suid-Afrikaanse strand gestap het moes die een of ander tyd êrens 'n seepampoentjie opgetel het. Ek weet 'n seepampoentjie is 'n "sea urchin" in Engels, maar het nog altyd gewonder of dit dalk 'n ander naam in Afrikaans het wanneer dit nog leef. Die eerste een wat ek besluit om te vra was my goeie vriend Google. Hy laat my selde in die steek en hierdie geleendheid was nie anders nie. Penny Nyren se boek Ontdek Stande was bo-aan die soeklys en daarin sê sy dat 'n lewende seepampoentjie 'n see-engel genoem word. See-engele woon gewoonlik op koraalriwwe of in rotspoele en het skerp penne wat hulle hele dop (skulp) bedek. Hierdie gevaarlike penne word gebruik om hulle te beskerm en is gewoonlik giftig. Probeer om nie in een van hulle te trap nie, want daardie einste penne breek maklik in jou voet af en kan maklik infeksie veroorsaak. Die seepampoentjie in die foto het ek gekry op 'n rots by die Knysnakoppe en moes deur iemand daar neergesit geword het nie lank voor my nie.
Waar is die fotos geneem:
36 George Rex Dr, Knysna 6571, South Africa
Wednesday, July 18, 2012
Groenpunt
Wanneer mens in 'n stad woon is daar niks lekkerder as om uit die stad uit weg te kom nie, maar dis nie altyd moontlik nie. Die volgende beste opsie is om op 'n strand, 'n park of natuurarea in die stad te gaan stap. Al drie Suid-Afrika se groot kusstede het baie gewilde wandelroetes langs hulle onderskeie strandfronte. Dit maak nie saak op watter strandfront jy stap nie, elkeen het sy eie bekoring, pragtige uitsigte en verskillende besienswaardighede. Die Kaapstadse strandfront kyk meesal uit oor Valsbaai met die berg in die agtergrond. Die foto is geneem vanaf Seepunt en kyk terug na Groenpunt met die Groenpuntvuurtoring aan die regterkant.
Kategorieë:
Kaapstad,
kuslyn,
vuurtorings,
Weskaap
Waar is die fotos geneem:
300 Beach Rd, Cape Town 8060, South Africa
Sunday, July 15, 2012
Kaap Recife Natuurreservaat
Die Kaap Recife Natuurreservaat in Port Elizabeth beslaan omtrent 370 hektaar om die westelike punt van Algoabaai. Die reservaat is idiaal vir voëlkyk beide aan die kus en om die waterherwinningspoele. Die beste manier om die reservaat te verken is om op die 9km lange Roseate Tern wandelroete gaan. Die roete begin by SAMREC (South African Marine Rehabilitation and Education Centre), 'n pikkewyn reddingssentrum, voor dit by die waterherwinningspoele verby gaan. Die roete lei dan deur plantbedekte sandduine en verby 'n uitkykpos wat uit die Tweede Wêreldoorlog dateer. Langs die kus sluit die roete die Kaap Recife vuurtoring in wat in 1851 gebou is en stap jy al langs die kus af terug tot by SAMREC.
Kategorieë:
kuslyn,
natuurreservaat,
Ooskaap,
Port Elizabeth,
vuurtorings
Waar is die fotos geneem:
Marine Dr, Port Elizabeth 6011, South Africa
Friday, July 6, 2012
Eersterivier sonsondergang
Kategorieë:
kuslyn,
Ooskaap,
sonopkoms / sonsondergang,
Tsitsikamma,
Tuinroete
Waar is die fotos geneem:
R102, South Africa
Thursday, May 17, 2012
Tsitsikamma kuslyn
Die Tsitsikamma, plek van baie water, is sonder twyfel een van Suid-Afrika se asemrowendste streke. Digte groen inheemse woude waar woudreuse van oor die 800 jaar oud staan word van die blou see geskei deur loodregte kranse. 'n Ongerepte kuslyn met wit skuimende branders wat hulleself te pletter slaan op swart rotse. Dolfyne en walvisse, otters in 'n sloep, luiperds teen die berg en die skugter Knysnaloerie wat tussen die boomtoppe rondbeweeg. Stories van houtkappers uit die ou dae, olifantvoetpaaie en wie weet, miskien 'n bosgees of twee. Duidelik een van die mooiste en aanloklikste landskappe aan ons land se kus.
Kategorieë:
kuslyn,
landskappe,
Ooskaap,
Tsitsikamma,
Tuinroete
Waar is die fotos geneem:
R102, South Africa
Subscribe to:
Posts (Atom)


